Polisieman vas vir bedrog, verkragting
2011-09-29 16:28
Johannesburg – 'n Polisiekaptein is Donderdag op aanklag van regsverydeling, die gebruik van 'n staatsvoertuig sonder toestemming, korrupsie, bedrog en verkragting in hegtenis geneem.
Die 49-jarige beampte is in hegtenis geneem toe hy om 08:00 by die Alberton-speurkantoor vir diens aangemeld het, het lt.kol. Lungelo Dlamini gesê.
Die ondersoek na die misdade het verlede jaar begin.
Die polisieman word daarvan beskuldig dat hy verklarings in 'n dossier, wat later gesluit is, vervals het.
Hy staan ook tereg op aanklag van verkragting nadat hy 'n vrou, wat hom betaal het om 'n aanklag teen haar terug te trek, verkrag het.
Die beampte word ook daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld ontvang het van 'n persoon op wie se vuurwapen die polisie beslag gelê het.
Die man verskyn Donderdag in die Alberton-landdroshof en 'n interne ondersoek is aan die gang.
Dlamini het gesê die polisiebeampte kan dalk weens die erns van die bewerings geskors word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA