Polisieman vas oor diefstal
2009-07-27 15:31
Kaapstad – Die Wes-Kaapse polisie het ‘n 35-jarige polisiekonstabel in hegtenis geneem nadat hy glo polisiehandradio’s gesteel het.
“Ná ‘n lang en deeglike ondersoek is die konstabel Maandagoggend in hegtenis geneem, “ het supt. André Traut, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.
“’n Polisielid wat van die diefstal van twee polisiehandradio’s verdink word, is by die Ocean View-polisiekantoor in hegtenis geneem. Die radio’s is aan mense van ‘n wegsleepdiensverkoop.”
Dié misdaad is in Januarie 2007 gepleeg toe die polisieman glo die radio’s uit die kluis gehaal en later gestel het sodat dit op die Suid-Afrikaanse Polisiediens se frekwensies ingestel is om dié wegsleepdiens ‘n voorsprong bo ander wegsleepdienste te gee.
Die konstabel sal Dinsdag in die Simonstown-landdroshof verskyn.
“Om lede van die publiek en moontlik misdadigers te hê wat op ons frekwensie ingestel is, is ‘n groot bedreiging vir wetstoepassing en dit word in ‘n baie ernstige lig beskou,” het Traut gesê.
“Korrupsie in die polisie sal onder geen omstandighede geduld word nie en elke poging sal aangewend word om die polisie van kriminele elemente te bevry.”
SAPA