Polisieman tydens rooftog doodgeskiet
2010-08-16 13:43
Johannesburg – ‘n Polisieman is doodgeskiet in ‘n gewapende rooftog in Kagiso naby Krugersdorp in die Wesrand, het Gautengse polisie Maandag gesê.
Adj. off. Peter Nkuna, 54, is Sondagoggend geskiet nadat gewapende mans ‘n supermark langs sy huis in Kagiso beroof het, het adj. off. Solly Sibiya gesê.
“Die rowers het ‘n skoot in die lug ingeskiet toe hulle ná die roof gevlug het. Hy het gereageer en is in die bors geskiet,” het Sibiya gesê.
“Hy is na ‘n hospitaal geneem en is later die middag dood.”
Ses leë koeëldoppies is op die toneel gevind. Die rowers het sy dienspistool geneem.
Nkuna het by die Kagiso-polisiestasie gewerk en was tydens die voorval op siekverlof.
In ‘n ander voorval is drie mans Maandag in hegtenis geneem vir gewapende roof in Kagiso nadat hulle glo ‘n Spoorwegpolisiebeampte se dienspistool gesteel het.
Volg Nuus24 op Twitter