Polisieman tydens jaagtog in oog geskiet
2011-11-24 11:10
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte is gewond toe hy tydens ‘n jaagtog met vermeende rowers in die oog geskiet is, het die polisie gesê.
Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini is die gewonde polisiekonstabel in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal ná Donderdag se voorval in Norkem Park, Ekurhuleni, aan die Gautengse Oos-Rand.
Dlamini sê die polisie was besig om vyf rowers agterna te sit toe die boewe op hulle begin skiet het. Die konstabel is tydens die skietery in die oog geskiet.
Daar word vermoed dat die vyf verdagtes ‘n familie in die gebied met wapens aangehou en juwele en selfone gesteel het.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA