Polisieman sterf voor seun
2012-08-20 10:30
Johannesburg – ‘n Oos-Randse polisiekonstabel het die afgelope naweek ‘n polisiekaptein voor sy seun in ‘n beweerde padwoede-voorval doodgeskiet, het ‘n koerant berig.
Beeld berig die twee polisiebeamptes was tydens die voorval nie aan diens nie.
Volgens die dagblad het die voorval Saterdagaand gebeur toe die polisiebeamptes in ‘n ongeluk naby die Katlehong-inkopiesentrum betrokke was.
Pinky Tsinyane, ‘n polisiewoordvoerder, sê die mans het mekaar nie geken nie, aangesien hulle in verskillende dele van Johannesburg gewoon het.
Die 29-jarige konstabel, wat ‘n wit Polo bestuur het, het ná die botsing uit sy motor geklim en die kaptein, wat in ‘n wit Toyota Corolla was, gekonfronteer.
“Daar was ‘n woordewisseling, waarna die konstabel na bewering die kaptein geskiet het...” het Tsinyane gesê. Die kaptein is in die been getref.
Albei het na hul voertuie teruggekeer, maar die kaptein (van die Brackendowns-polisiestasie in Alberton) het na bewering besluit om sy aanvaller weer te nader. Daarna het hy die konstabel in die Polo aangeval.
Volgens die oorledene se seun, wat na bewering die hele voorval gesien het, het die konstabel toe ‘n skoot vanuit die motor afgevuur, waarna die kaptein gesterf het.
Tsinyane sê die konstabel (van die Zonkiziswe-polisiestasie in Kathlehong) sal later in die Katlehong-landdroshof verskyn in verband met die moord.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA