Polisieman sterf ná hy in oog geskiet word
2011-11-25 12:14
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte het in ‘n hospitaal gesterf ná hy tydens ‘n jaagtog met vermeende rowers in die oog geskiet is, het die Gautengse polisie gesê.
Konst. Mashudu Munga (34) van die Alexandra-polisiestasie het Vrydagoggend aan sy beserings beswyk, het lt. Lungelo Dlamini gesê.
Dlamini sê die polisie was besig om vyf rowers agterna te sit toe die boewe op hulle begin skiet het. Die konstabel is tydens die skietery in die oog geskiet.
Die voorval het Donderdag in Norkem Park, Ekurhuleni, aan die Gautengse Oos-Rand plaasgevind.
Daar word vermoed dat die vyf verdagtes ‘n familie in die gebied met wapens aangehou en juwele en selfone gesteel het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA