Polisieman sterf in hospitaal ná aanranding
2011-11-08 17:41
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte wat met die Zwelitsha misdaadintelligensie-eenheid verbind word, is Dinsdagoggend dood nadat hy ‘n paar dae gelede geslaan en gesteek is, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
Die 44-jarige adjudant-offisier is by die St. Dominic’s-hospitaal in Oos-Londen dood, het kapt. Ernest Sigobe in ‘n verklaring gesê.
Die polisiebeampte se naam kan nie bekendgemaak word voordat sy familie in kennis gestel is nie.
Volgens Sigobe is hy Sondag in die hospitaal opgeneem nadat hy tydens ‘n ondersoek in Cambridge, Oos-Londen, aangeval is.
Besonderhede rondom die aanval kon nie bekendgemaak word nie, aangesien die polisie nog die omstandighede ondersoek.
Die offisier was vir 25 jaar in diens van die polisie.
Die provinsiale kommissaris, lt. genl. Celiwe Binta, het haar medelye aan sy familie, vriende en kollegas uitgespreek.
“Ons sal seker maak dat diegene wat betrokke was in die moord gestraf word,” het Sigobe gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA