Polisieman skiet sy meisie dood, beseer kind
2011-11-28 18:12
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte het glo oor die naweek sy meisie doodgeskiet en hul vierjarige seun in KwaMhlanga beseer, het die polisie in Mpumalanga Maandag gesê.
Die 25-jarige vrou het Saterdagoggend na haar kêrel se huis gegaan en daarop aangedring dat hy vir haar geld gee sodat sy klere vir hul seun kan koop, het lt. kol. Leonard Hlathi gesê.
‘n Argument het uitgebreek voor die polisiebeampte se ma en die seun.
Die beampte het sy dienspistool uitgehaal en verskeie skote op sy meisie gevuur. Sy is op die toneel dood.
“Sy 58-jarige ma en die kind is deur dwaalkoeëls getref,” het Hlathi gesê.
Hulle is by die KwaMhlanga-hospitaal opgeneem.
Die beampte het homself ná die skietery aan die polisie oorgegee.
Hy sal binnekort op aanklagte van moord en twee vir poging tot moord in die KwaMhlanga-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA