Polisieman skiet inbreker dood
2011-09-23 17:29
Johannesburg – ‘n Vrystaatse polisiebeampte het ‘n man doodgeskiet nadat hy by ‘n winkel in Thabong ingebreek het, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.
Volgens sers. Tlalanyane Pakela het die man op die toneel gesterf nadat hy in die bors geskiet is. Die polisie is nog op soek na sy medepligtige.
Twee polisiebeamptes is Vrydagoggend omstreeks 02:30 na die winkel ontbied nadat hulle ‘n oproep oor ‘n inbraak ontvang het.
Pakela sê die slot van die winkel se deur was gebreek, maar niks is gesteel nie.
Terwyl die polisiemanne ondersoek ingestel het, het twee mans uitgehardloop en weggekruip.
Een van die verdagtes het met ‘n mes na ‘n polisiebeampte gehardloop toe hulle vir die mans gesoek het, het Pakela vertel.
Volgens die woordvoerder het die polisiebeampte die verdagte met sy dienspistool geskiet voordat die man hom kon aanval.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA