Polisieman skiet gewapende rower dood
2011-06-17 13:06
Johannesburg – 'n Polisieman het 'n gewapende rower, wat eerste op hom losgebrand het, in Diepsloot in die noorde van Johannesburg doodgeskiet, het die polisie in Gauteng gesê.
Die polisieman was nie ten tyde van die skietery aan diens nie.
"Die oorledene, 'n buitelander, was deel van 'n groep van sewe mans wat 'n uur tevore mense by 'n plaaslike taverne aangeval het," het ao. Daniel Mavimbela gesê.
Twee mense is tydens die rooftog doodgeskiet en die mans het selfone en kontant gebuit.
Die mans het toe 'n Toyota Corolla afgetrek en 'n selfoon en kontant van die insittende gesteel, terwyl die bestuurder weggehardloop het.
'n Polisiebeampte, wat in sy huis geslaap het, het wakker geword van die geraas en besluit om ondersoek in te stel, het Mavimbela gesê.
"Hy het die insittende van Corolla gevra wat gebeur het, toe hy die groep mans in hul rigting sien ry."
Een van die mans het toe 'n vuurwapen uitgepluk en die polisiebeampte geskiet.
"Terwyl hy bestuur het, het die konstabel die verdagte in die bolyf geskiet. Die verdagte het op die toneel gesterf," het Mavimbela gesê.
Die polisie het beslag gelê op 'n handvuurwapen en twee selfone wat op die toneel gevind is.
Die polisie ondersoek aanklagte van sakeroof, poging tot moord en moord.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA