Polisieman se vuurwapen in moord gebruik
2009-12-31 14:46
Johannesburg - 'n Polisiebeampte van Orange Farm se vuurwapen is na bewering gebruik in die moord op die Rustenburgse sakevrou Miriam Khoza, haar twee seuns en twee familielede, het die polisie Donderdag gesê.
Supt. Lesego Metsi het gesê die twee mans wat in Sebokeng in hegtenis geneem is in verband met die moorde het erken dat hulle die vuurwapen uit 'n polisiebeampte in Orange Farm se huis gesteel het.
Dieselfde vuurwapen is na bewering gebruik om Khoza se swaer, Daniel Karfhia, 46, te vermoor.
"Daar is verskille tussen die verklarings van die verdagtes en die polisiebeampte. Die polisiebeampte het in sy verklaring aangevoer dat die wapen tydens 'n roof afgeneem is, terwyl die verdagtes sê hulle het dit tydens 'n inbraak gesteel."
Die Vaaldriehoek-polisie is besig om die omstandighede rondom die vuurwapen se verdwyining te ondersoek ingevolge die vuurwapenbeheerwet.
"Ons ondersoek slegs die moordsaak," het Metsi gesê.
Die lyke van Khoza, haar twee seuns – Karabo en Tsaona – sowel as Karfhia, en 'n ander familielid van Khoza, Nadir Khoza, is Kersdag in 'n huis in Lethabong naby Rustenburg gevind.
– SAPA