Polisieman se lyk in boom gevind
2010-07-08 18:27
Pietersburg – ‘n 43-jarige polisieman van Limpopo, wat sowat ‘n maand gelede vermis geraak het, is dood gevind, het die polisie Donderdag gesê.
Volgens kol. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, is sers. Johannes Mpai se lyk Woensdag gevind waar dit in ‘n boom gehang het.
Skaapwagters het op Mpai se lyk afgekom op ‘n plaas tussen Armoede en Tshamahansi.
“Die lyk was reeds erg ontbind maar die polisie kon daarin slaag om Mpai uit te ken.”
Sers. Mpai is laas op 31 Mei lewend gesien toe hy vanaf sy huis op pad werk toe was.
Hy was deel van die Mahwelereng-polisiestasie naby Mokopane.
‘n Nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van Mpai se dood bepaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA