Polisieman se koeël tref meisie
2011-11-20 13:49
Johannesburg – ‘n Twaalfjarige meisie word in ‘n hospitaal behandel nadat ‘n polisiekoeël haar in Kamesh, Uitenhage, getref het, het die Oos-Kaapse polisie gesê.
‘n Polisiespeurder van Uitenhage was besig om ‘n man op aanklag van motordiefstal in Kamesh aan te keer toe die voorval Saterdag gebeur het, het ao. Marianette Olivier gesê.
Die verdagte het inhegtenisneming geweier en glo weggehardloop.
Daarna het die speurder ‘n waarskuwingskoot afgevuur. Dié dwaalkoeël het die meisie in haar been getref.
Daar word berig dat die meisie in ‘n stabiele toestand in die Uitenhage- provinsiale hospitaal is.
Volgens Olivier is die verdagte man steeds soek.
Sy sê die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord teen die speurder.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA