Polisieman se dogter sterf ná huisbrand
2011-08-01 15:27
Johannesburg – Die derde dogter van ‘n Durbanse polisieman wat vermoedelik sy eie huis aan die brand gesteek het, het in ‘n hospitaal gesterf, het die KwaZulu-Natalse polisie Maandag gesê.
Nothando Makhanya (15) is Sondagaand om 21:00 in die King Edward-hospitaal dood nadat sy brandwonde aan meeste van haar lyf opgedoen het, het Thulani Zwane, ‘n woordvoerder gesê.
Haar ma, Cynthia (47), is steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.
Die polisie vermoed ao. Thulani Makhanya (52) het vroeg Sondagoggend sy huis in Newlands-wes aan die brand gesteek en toe homself om die lewe gebring.
Sy lyk is ‘n paar meter van sy huis af gevind. Hy het ‘n steekwond aan sy nek gehad en ‘n mes het langs sy lyk gelê.
Sy ander dogters, Nondumiso (23) en Nonjabulo (18), se verkoolde lyke is binne die huis gevind.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA