Polisieman, rugbyspeler vas ná mislukte rooftog
2010-07-26 00:55
Johannesburg - 'n Polisieman, 'n voormalige rugbyspeler en twee ander mense is in hegtenis geneem ná hul plan om 'n goudaanleg by die Pres. Steyn-myn in Welkom te beroof, in die wiele gery is, het die polisie in die Vrystaat gesê.
Die groep het glo beplan om mynpersoneellede wat die goud van die goudaanleg af moet vervoer te beroof, het sers. Mmako Mophiring gesê.
Die polisie het Donderdag inligting oor die beplande rooftog ontvang.
Die groep, tussen die ouderdomme van 20 en 43, is by die myn in hegtenis geneem. Hulle het in drie voertuie, insluitend ’n Nissan Tiida-polisievoertuig, by die goudaanleg aangekom.
Mophiring het gesê toe die vier verdagtes, waaronder 'n sekerheidsbeampte en 'n werklose man, oor hul aktiwiteite ondervra is, kon hulle nie antwoorde verskaf tot die polisieman gebieg het nie.
'n Ongelisensieerde vuurwapen met 'n lisensie wat in 2003 verval het, is glo in die polisieman se besit gevind.
Die polisieman staan tereg op aanklagte van korrupsie, die gebruik van 'n staatsvoertuig sonder toestemming en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen.
Die ander drie verdagtes staan tereg op korrupsie.
Die groep verskyn binnekort in die Welkom-landdroshof.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA