Polisieman rig glo wapen op bussie vol seuns
2011-05-09 07:33
Koffiefontein - ’n Sportdag hier het vir ’n kombi vol besoekende rugbyspelers en hul onderwyser van Petrusburg in ’n vreesaanjaende ervaring ontaard toe ’n polisieman na bewering ’n vuurwapen op hulle gerig het.
Thea Ferreira, die onderwyser wat die voertuig bestuur het, vertel hulle was Saterdagmiddag op pad terug na Petrusburg toe sy vir ’n slaggat moes uitswaai.
Die seuns is onderskeidelik die o.16- en eerste span van die Gekombineerde Skool AJCJooste.
“Ek het nie besef dat die bestuurder van die (Toyota) Tazz agter ons intussen sy flikker aangesit het om ons verby te steek nie. Ek besef ek het ’n fout gemaak. Ek het voor hom ingery. Daarna het ek terug na ons baan beweeg.”
Die bestuurder het hulle toe glo verbygesteek.
“Toe hy weer voor ons ry, het hy sy noodligte aangesit. Hy het stadiger gery, want hy wou hê ons moes stop. Ek het ’n kombi vol leerlinge gehad. Wat moes ek doen? Ek het net aangery. Later het ons hom weer verbygesteek.”
Sy sê die bestuurder van die Tazz het toe weer verby hulle gery en probeer om hulle van die pad te druk.
“Die seuns het toe ook begin besef wat aangaan. Ons het almal gesien hoe hy ’n vuurwapen op ons rig.
“Ek was kalm, maar van die seuns was bang en histeries.”
Ferreira vertel haar man, Chris, wat in ’n bakkie agter hulle aangery het, het intussen ook besef wat aangaan.
Daar was ook leerlinge saam met hom in die voertuig.
“My man het probeer om tussen ons en die Tazz te kom.
“Die Tazz se bestuurder het toe ook op hulle die vuurwapen gerig. Ek het die polisie op Koffiefontein gebel.
“Die polisie het ongelooflik goed op ons krisis gereageer. Polisiebeamptes van Petrusburg het hom ingewag en afgetrek.”
Ferreira sê sy het op Petrusburg ’n klag teen die man ingedien.
“Is dit nou maar hoe die lewe in ons land is? Kan mense mekaar maar doodskiet as die ander ’n fout maak?”
’n Leerling wat in die kombi was, maar om veiligheidsredes nie sy naam wil noem nie, sê hy en van die ander seuns in die kombi het die Tazz se bestuurder as ’n polisieman herken wat op Petrusburg bly, maar in die Noord-Kaap werk.
“Ons was bang. Ek het gesien toe hy sy noodligte aansit. Hy het stadig gery. Ons juffrou het nie geweet wat om te doen nie. Hy het eers die vuurwapen in die lug gewys. Toe rig hy dit op ons.
“Hy het later, toe die polisie hom aftrek, baie stories vertel. Eers het hy gesê hy het gedink ons is rowers. Toe sê hy hy moes sy broer gaan help.”
Dié voorval kom ná die dood van Jeanette Odendaal van Kemptonpark wat glo deur ’n polisiebeampte geskiet is nadat sy per ongeluk in ’n polisievoertuig voor die polisiekantoor vasgery het.
Lt.kol. Annelie Wrensch, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het Sondag die voorval bevestig, maar kon nie die identiteit van die verdagte bevestig nie.
Sy sê ’n saak van die rig van ’n vuurwapen is teen die bestuurder van ’n Toyota Tazz oopgemaak. Die polisie ondersoek die saak.
- Volksblad