Polisieman laat kind met geweer speel
2011-09-21 07:04
Trompsburg – Ernstige aanklagte staar ’n polisieman van dié dorp in die gesig en hy kan moontlik summier afgedank word nadat hy na bewering sy geweer aan ’n klein seuntjie gegee het om vas te hou.
’n Foto van die kind, hoogstens vyf jaar oud en met die geweer in sy hande, is Vrydag deur iemand op die dorp geneem by die pensioene-betaalpunt.
Volgens die fotograaf het die polisieman wat by die betaalpunt diens gedoen het, in ’n stadium vir homself kos gekoop en die geweer in die kind langs hom se hande gedruk toe hy wou eet.
Dit is nie bekend of die polisieman en die kind aan mekaar verwant is nie.
Die man wat die steelfoto met sy selfoon geneem het en uit vrees vir intimidasie nie sy naam genoem wil hê nie, sê skynbaar het niemand wat daar rondgestaan het die kind met die geweer in sy hande as ongewoon beskou nie.
Op die foto is dit egter duidelik dat ’n verbyganger stilgestaan het en na die kind met die geweer in sy hande gestaan en kyk het. Dié man het egter nie die polisieman aangespreek nie.
Die fotograaf sê die kind het die loop van die geweer in sy mond gedruk, daarmee rondbeweeg en openlik daarmee gespeel. Dit is nie bekend of die geweer gelaai was nie.
Nadat die kind die geweer ’n lang ruk by hom gehad het, het ’n tweede polisieman op die toneel aangekom, die geweer by die kind afgeneem en dit in die polisievoertuig gaan toesluit.
Die man sê almal wat hy van die voorval vertel en aan wie hy die foto op sy selfoon gewys het, was uiters geskok. Kommentaar van baie mense aan hom was dat hulle jare lank vir die goedkeuring van vuurwapenlisensies wag, baie streng keuringsprosesse moet deurgaan, maar ’n geweer word sonder om twee keer te dink in ’n kind se hand gestop, en dit boonop deur ’n polisieman.
Nog ’n inwoner wat die foto gesien het, sê hierdie is die tipe foto wat gewoonlik per e-pos versprei word en waarvan die oorsprong meestal twyfelagtig is.
“Dit is só skokkend dat mens onwillekeurig wonder of dit werklik die waarheid kan wees. Hier het ons egter die bewys daarvan.”
Brig. Billy Jones, provinsiale skakelhoof van die polisie, sê ’n ondersoek is reeds begin direk nadat Volksblad Dinsdag die foto aan hulle beskikbaar gestel het. “Dit wat na bewering hier gebeur het, druis in teen alles waarvoor die polisie staan en word in ’n baie ernstige lig beskou.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad