Polisieman doodgeskiet terwyl hy visvang
2010-08-30 10:16
Durban – ‘n Polisieman is doodgeskiet en sy verloofde is in ‘n kritieke toestand nadat hulle aangeval is terwyl hul visgevang het by ‘n dam in KwaZulu-Natal.
Die polisieman was nie aan diens toe die voorval plaasgevind het nie.
Volgens supt. Jay Naicker is kapt. Kevein Marallich en sy verloofde Cathy Potgieter Sondag by ‘n plaasdam naby Nyoni aangeval.
Daar word vermoed dat die paartjie deur twee mans aangeval is. Een van hulle het ‘n pistool gehad.
Marallich is in die gesig geskiet en Potgieter is aangerand. Sy is deur werkers in die dam gevind.
Volgens Jeff Wicks, woordvoerder vir Netcare911, is Potgieter in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA