Polisieman doodgeskiet in rooftog
2011-12-06 14:15
Johannesburg – 'n Polisieman is Dinsdag doodgeskiet in 'n rooftog by 'n winkelsentrum in Lambton aan die Oosrand, het die polisie in Gauteng gesê.
Twee beamptes het omstreeks 10:00 op 'n rooftog by 'n juwelierswinkel reageer, het lt.kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
"Agt mans het uit die winkel gehardloop en die polisiebeamptes konfronteer. Hulle het die beamptes van twee pistole en 'n R5-geweer beroof en daarna een van hulle geskiet."
Die 39-jarige sersant, wie se naam nie bekend is nie, is op die toneel dood. Die tweede beampte is nie gewond nie.
Die mans het die juwele gebuit en in twee motors gevlug.
'n Saak van moord en sakeroof word ondersoek. Die rowers is steeds op vrye voet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA