Polisieman deur jaagduiwel omgery
2011-09-14 08:53
Bloemfontein - 'n Polisieman wat na bewering deur ’n jaagduiwel omgery is, veg in die hospitaal om sy lewe.
Volgens Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, is ao. Mohale Hlalele (46) in ’n kritieke toestand in dié hospitaal se intensiewesorgeenheid.
Hlalele het verkeer op die hoek van Charles- en Oos-Burger-straat gereguleer, toe ’n motor hom na bewering teen ’n hoë spoed omgery het.
Hlalele, lid van die polisie se eenheid vir openbare orde, is voor die oë van kollegas omgery.
Hy het ernstige kopbeserings opgedoen.
Sers. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n klag van roekelose en nalatige bestuur teen die motorbestuurder.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad