Polisieman bel sleepdiens vóór ambulans
2009-08-14 17:12
Johannesburg – ‘n Polisieman het skuldig gepleit op aanklagte dat hy omkoopgeld van wegsleepdienste aanvaar het.
Insp. Gerhardus Cornelius Glinister, 38, het aan die hof vertel hoe hy op verskeie geleenthede saam met wegsleepdienste gewerk het vir betaling.
Die inspekteur sou die wegsleepdienste eerste van ongelukstonele laat weet vóór hy die ambulansdiens sou bel, het kapt. Leonard Hlahi van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gesê.
Glinister is een van ses beskuldigdes wat in Belfast se streekshof teregstaan, het die Mpumalanga polisie Vrydag gesê.
Die inspekteur het Donderdag skuldig gepleit op al sewe aanklagte van korrupsie teen hom.
Glinster is tot twee jaar gevangenisskap gestraf. Een jaar is opgeskort vir vyf jaar, maar hy moet die tweede jaar uitdien, of R20 000 betaal.
Die ander vyf beskuldigdes, insp. Ngolovane Michael Mnisi, 43, insp. Jeremiah Fenyane, 47,
konst. Milton Samuel Mashile, 35, insp. Hlobogang Abinaar Mashele, 48, en insp. Peter Laban Khoza, 40, wat van dieselfde oortredings beskuldig word, se sake kom later die maand voor.
-Sapa