Polisieman aangekla ná hy glo fotograaf aanval
2011-10-14 16:22
Johannesburg – Verskeie aanklagte is teen 'n polisieman aanhangig gemaak nadat glo hy 'n fotograaf van The Star aangerand het, het dié koerant Vrydag berig.
Aanklagte van intimidasie, aanranding en saakbeskadiging is teen lt.kol. Pedro Magadidzha aanhangig gemaak nadat hy en die fotograaf Dumisani Sibeko Donderdag in 'n struweling by die Protea-landdroshof betrokke was.
Magadidzha het in 'n saak getuig waarin nege polisiebeamptes teregstaan op aanklagte van korrupsie, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en aanranding.
Hy het na bewering op Sibeko afgestorm nadat die saak afgestaan is, en sy kamera probeer afneem. Hy het na bewering die kamera geswaai en die lens gebreek.
"Hoekom neem jy foto's van my sonder toestemming," het hy Sibeko gevra.
Die beampte het die kamera gegryp voor Sibeko kon weghardloop, waarna hy Sibeko beveel het om sy foto van die kamera te verwyder.
Nóg 'n struweling het toe ontstaan.
Die aanklagte is by die Moroka-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Die nege polisiebeamptes van Soweto is elk borgtog van R5 000 toegestaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA