Polisieman aan diens doodgeskiet
2012-10-31 13:53
Johannesburg – ‘n Metropolisiebeampte het gesterf toe hy in Hebron, in Pretoria, geskiet is terwyl hy aan diens was, het Tshwane se metropolisie gesê.
Console Tleane, ‘n woordvoerder, sê drie beamptes is Dinsdagaand aangeval terwyl hulle die gebied naby Ga-Rankuwa gepatrolleer het.
“Hulle het opgemerk dat ‘n voertuig se ligte nie gewerk het nie, en dit laat stilhou en ‘n boete aan die bestuurder uitgeskryf.”
“Kort na die boete uitgereik is, is die beamptes deur vier mans oorval...”
Een van hulle het op die polisiebeamptes losgebrand, waarna ‘n beampte in die kop gewond is.
“Sy twee kollegas het teruggeskiet en een van die mans getref, maar hulle het weggehardloop toe die beamptes na hul kollega teruggekeer en hom na die Legae-kliniek in Mabopane geneem het,” het Tleane gesê.
Die beseerde metrobeampte het ná sy operasie gesterf.
Een van die aanvallers is later in Hebron aangekeer.
Tleane sê gemeenskapslede het ‘n tweede aanvaller vasgetrek en hom aan die polisie oorhandig.
Die ander twee mans is steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA