Polisieman 15 jaar tronk toe ná rooftog
2011-09-28 13:36
Durban – 'n Polisieman van KwaZulu-natal is 15 jaar tronkstraf opgelê vir gewapende roof met verswarende omstandighede, berig Independent Online.
Konst. Sandile Tembe is ook Dinsdag in die KwaDukuza-landdroshof sewe jaar tronkstraf opgelê vir poging tot moord.
Tembe, wat by die New Ark-polisiekantoor gestasioneer was, sal die vonnisse gelyktydig uitdien.
Op 12 Julie 2008 het Patrick Ndlovu omstreeks 02:30 op die R102 naby KwaDukuza gery toe 'n voertuig hom van die pad af dwing.
Vier mans, insluitend Tembe, het Ndlovu herhaaldelik aangerand en in die kattebak van sy motor gegooi.
Kapt. Manivasigen Perumal en konst. Benedict Mzimela het die gebied patrolleer en het op die toneel stilgehou.
'n Skietery het ontstaan en drie van die verdagtes het gevlug. Tembe, wat in 'n bos gehardloop het, is in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op sy dienspistool.
Die polisiemanne het toe hulpkrete uit die kattebak van die motor gehoor en Ndlovu daarin gevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA