Polisielede verbied om verlof te neem
2011-09-19 07:59
Pretoria – Geen polisielede sal tot minstens middel Januarie volgende jaar verlof kry nie – nie eens genl. Bheki Cele, hul hoof, nie.
“As die mans en vroue in blou moet werk, dan moet ek ook werk,” het Cele, nasionale polisiehoof, Sondag in ’n verklaring gesê.
Cele het gesê hy het nie aan enige polisielede verlof gegee van September, oor die Kersvakansie tot middel Januarie nie, “sodat Suid-Afrikaners veilig kan wees en veilig kan voel”.
Volgens Cele sal hy in die feestyd verskeie gebiede besoek en fisieke en morele ondersteuning aan polisielede gee.
Cele het gesê as enigiemand ontevrede met die polisie se diens oor die feestyd is, moet hulle die betrokke provinsiale polisiehoof bel en dit by hom of haar aanmeld.
Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê ten tyde van verlede jaar se Operasie Duty Calls het dit vrugte afgewerp om alle polisiebeamptes in uniform op straat te hê. Daarom gaan hulle dit vanjaar weer doen.
Operasie Duty Calls het op 1 September begin en duur tot middel Januarie volgende jaar.
Die doel van dié verbod op verlof is om die polisie se vermoë oor die feestyd te verhoog, het Naidoo gesê.
“Alle polisiebeamptes in uniform sal patrollies te voet, in voertuie, op perde en motorfietse met die maksimum ondersteuning van die lugvleuel doen om sodoende seker te maak ons het soveel as moontlik polisie-sigbaarheid in operasies,” het Naidoo gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad