Polisielede in hof oor misdaadstatistieke
2012-01-20 20:43
Johannesburg – Vier stasiebevelvoerders van Limpopo het Vrydag in die Polokwane-landdroshof verskyn nadat hulle glo misdaadstatistieke in Tzaneen gemanipuleer het, het die polisie gesê.
Volgens lt. kol. Ronel Otto het die vier beamptes vlugtig in die hof verskyn en die saak is tot 22 Februarie uitgestel vir borgtog-aansoeke.
Brig. Naledzani Sivhula (48), kapt. Matome Matsapola (51), brig. Nelson Mulaudzi (50) en lt.kol. Mahlodi Ramokgobedi (49) is aangekla van dwarsboming van die gereg.
Ondersoeke het begin toe daar uitgevind is dat die misdaadstatistieke van Tzaneen onakkuraat is en dat ernstige misdade in 2008 met opset toegesmeer is.
Die ondersoek het getoon dat moordsake as doodsondersoeke beskryf is en dat inbrake slegs as onregmatige betredings beskryf is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA