Polisielede aangekla van poging tot moord
2010-01-15 07:51
Kaapstad - Vyf polisiebeamptes van die Kraaifontein-polisiekantoor verskyn vanoggend in die Blue Downs-landdroshof op aanklagte van poging tot moord en gewapende roof.
Dít volg nadat ’n man op 31 Desember omstreeks 02:00 by die Kraaifontein-polisiekantoor ’n klag aanhangig gemaak het dat die beamptes by sy huis in Wallacedene op hom geskiet en geld gesteel het, het kapt. Gerhard Niemand, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
“Ons het eers vermoed dat die verdagtes burgerlikes is wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Verdere ondersoek het ons na die huis van ’n polisiekonstabel gelei. Sy huis is op 8 Januarie deurgesoek en hoewel geen geld gevind is nie, het ons wel op ammunisie afgekom.”
Konst. Ezra Kruger is omstreeks 15:00 vir die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem en het Maandag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn, waar sy saak tot vandag uitgestel is.
Die polisie se ondersoek het hulle toe na reservis-insp. Peter Hugo gelei. Hy is op 10 Januarie aangekeer en het op 12 Januarie in die Blue Downs-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord. Dié saak is ook tot vandag uitgestel.
Die ander drie konstabels is gisteroggend omstreeks 06:00 in hegtenis geneem. Hul name kan nie bekend gemaak word voordat hulle vandag in die hof verskyn het nie.
Volgens Niemand het die polisie genoeg bewyse dat geld wel by die man se huis gesteel is om die beamptes ook van gewapende roof aan te kla. “Ons glo dat beamptes met ’n swak karakter met wortel en tak uitgewerk moet word.”
Gerrie Moolman, voorsitter van die Kraaifontein-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê hy glo dié vyf beamptes se gevalle is geïsoleerd. “Die gemeenskap hier het ’n baie goeie geskiedenis met betrekking tot die gedrag van die polisiebeamptes. Voorvalle soos hierdie vind nie gereeld plaas nie.”
Alison Tilley, direkteur van die Open Democracy Advice Centre, het gesê hoewel daar baie strukture in plek is om korrupsie uit te roei, is baie hiervan nie operasioneel nie en moet meer gedoen word om fluitjieblasers te beskerm.
“As jy ’n werknemer is wat korrupsie in jou werkplek oopvlek, is daar gewoonlik ’n beleid in plek om jou te beskerm, maar as jy ’n gewone lid van die publiek is, is daar niks in plek wat jou beskerm teen die mense wat jy ontmasker nie.”
- Die Burger