Polisiekonstabel vas ná gefnuikte rooftog
2011-02-22 18:00
Pretoria – 'n Polisiekonstabel is een van ses vermeende rowers wat ná 'n gefnuikte transito-rooftog in hegtenis geneem is, het 'n woordvoerder Dinsdag gesê.
Drie vermeende rowers is doodgeskiet en twee gewond.
Vroeër is berig dat vier rowers doodgeskiet is.
Kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het op die toneel opgedaag waar nege vermeende rowers in twee voertuie 'n Red Eagle-geldwa van die pad afgedwing het.
Die voorval het omstreeks 09:30 naby die Rooiwal-kragstasie in Temba plaasgevind.
Die rowers het op die polisie losgebrand, waarna daar 'n skietgeveg ontstaan het.
Geen polisiebeamptes of sekerheidswagte is gewond nie.
Naidoo het gesê die twee kritiek beseerde rowers is hospitaal toe geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA