Polisiehond vind verdwaalde leraar
2009-11-23 06:51
Rozanne Els
Kaapstad - ’n Polisiehond met ’n besonder fyn reuksin het ’n 74-jarige predikant, wat by Simonstad byna 24 uur vermis was, met behulp van ’n sakdoek uitgesnuffel waar hy deurmekaar in ’n voetslaanpad bo die hawedorp gesit het.
Luke die polisiehond is reeds Vrydag op eerw. Simon Gasa, predikant van KwaZulu-Natal, se spoor gesit.
Gasa, wat in Simonstad deelgeneem het aan ’n konferensie van die Suid-Afrikaanse Evangelisasie Sending, het Vrydagmiddag nie van ’n middaguitstappie langs die kus teruggekeer nie.
Die kerkgroep, wat by Rocklands-sentrum tuisgegaan het, het na hom begin soek.
Later is die hulp van die plaaslike polisie en die honde-eenheid in Milnerton ingeroep.
Volgens me. Vyan Easom, ’n bestuurder by die sentrum, was hulle veral bekommerd oor Gasa omdat hy ’n diabeet is.
Twee Duitse herdershonde, Mischief en Luke, is ingespan om te help soek. Teen 22:00 die aand moes hul hanteerder, konst. Denver Olifant, hulle eers laat rus.
Die soektog is Saterdagoggend deur onder meer die polisie, Wildernis-soek-en-redding, Cape Medical Response en ’n polisiehelikopter hervat. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ook ’n reddingsboot uitgestuur.
Luke is toegelaat om aan ’n sakdoek van Gasa te ruik, en teen omstreeks 10:00 het Luke die geselskap na Gasa gelei waar hy in ’n voetslaanpad op ’n staproete bo Simonstad gesit het. Hy was gedisoriënteerd en ontwater.
Hy is na die Valsbaai-hospitaal gebring, maar is kort daarna ontslaan, het Easom aan Die Burger gesê. Gasa het lekker aan ’n bord kos gesmul toe Die Burger hom gister by die sentrum besoek het.
Hy het deur bemiddeling van ’n tolk, mnr. Lionel Frost, gesê hy voel nou goed, “maar die pyn sal dalk later inskop”.
Volgens Gasa kan hy net onthou dat hy met ’n bus na Simonstad gekom het, maar hy kan nie onthou dat hy gaan stap het en hoe hy verdwaal het nie. Hy het gistermiddag huiswaarts gekeer.
- Die Burger