Polisiebeamptes verskyn vir moord
2011-11-16 20:58
Johannesburg – Twee polisiebeamptes wat van moord aangekla word, het Woensdag in die George-landdroshof verskyn, het die Onafhanklike Klagtedirektoraat gesê.
Moses Dlamini, woordvoerder, het gesê die twee beamptes is elk op borgtog van R500 vrygelaat en die kwessie is tot 15 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.
Sers. JC Edwards en sers. AP Carolus, albei 35, het Pieter Olivier (46) na bewering Saterdag in George doodgeskiet. Hulle is Dinsdag in hegtenis geneem.
Olivier is geskiet nadat die motor waarin hy en vier ander gereis het naby ‘n vermeende dwelmnes gesien is.
Die polisiebeamptes het probeer om die motor af te trek en ‘n jaagtog het gevolg. Edwards en Carolus het 10 skote op die motor afgevuur.
Toe die motor gestop het, is Olivier gevind waar hy twee koeëlwonde aan sy kop gehad het. Hy is op die toneel dood verklaar.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA