Polisiebeamptes vas vir korrupsie
2012-02-06 20:00
Johannesburg – Twee polisiebeamptes in Johannesburg is in ‘n geheime operasie vir omkopery en korrupsie in hegtenis geneem, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.
Die twee, wat albei aan die Rosebank-polisiekantoor verbonde is, is Sondagaand deur die Valke by die Campus Square-winkelsentrum in Auckland Park in hegtenis geneem, het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
Hulle het na bewering ‘n voormalige televisie-aanbieder gedreig en gesê hulle het “inkriminerende bewyse” teen haar.
Hulle het geëis dat sy hulle R10 000 betaal om nie met die ondersoek voort te gaan nie.
Die vrou het na die polisie gegaan en ‘n lokval is voorberei. Sondag omstreeks 21:00 het sy die twee by ‘n restaurant ontmoet. Nadat sy die geld aan hulle oorhandig het, het die polisie toegeslaan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA