Polisiebeamptes vas vir diefstal van TV’s
2012-01-11 17:27
Johannesburg – Sewe polisiebeamptes en vier burgerlikes is in hegtenis gneem vir die diefstal van 20 plasma-televisiestelle by ‘n ongelukstoneel, het die polisie in die Vrystaat Woensdag gesê.
Die vragmotorbestuurder het beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan tussen Smithfield en Rouxville in Desember, het sers. Fikiswa Matoti gesê.
"Hy het beserings opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem. Die vragmotor en die vrag het dus agtergebly."
Volgens Matoti het die eienaar van die vragmotor gevind dat voorraad weg was toe hy op die toneel aangekom het. Hy het dit aan die polisie gerapporteer.
Die beamptes is Dinsdag in hegtenis geneem. Twintig plasma-televisiestelle is teruggevind.
Die 11 sal volgens Matoti Donderdag in die Rouxville-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA