Polisiebeamptes vas vir afpersing by OR Tambo
2012-01-12 14:45
Johannesburg – Vier polisiebeamptes is Donderdag by die OR Tambo- internasionale lughawe in hegtenis geneem op aanklagte van afpersing, het die polisie gesê.
Die inhegtenisnemings kom nadat die polisie ‘n Ghanese burger op 1 Januarie by doeane aangekeer het, het kol. Vishnu Naidoo gesê.
“Die polisie het daarop aangedring dat hy (die Ghanese man) ‘n uitnodiging wys wat sy besoek aan Suid-Afrika regverdig,” het Vishnu gesê.
Daarna het die man sy paspoort en visum vir hulle gewys en gesê hy benodig nie ‘n uitnodigingsbrief nie.
Die polisiebeamptes het na bewering $100 van die man geëis en gedreig dat hulle hom sal deporteer, het Vishnu vertel.
Vishnu sê die man was bang dat hy gedeporteer sou word en het $50 vir die mans gegee.
Daarna het die polisiebeamptes glo gesê die man moet die dollars in rand omsit en hulle betaal.
Die voorval is later onder die aandag van die lughawe se polisiebestuur gebring.
“Die Ghanese man is mettertyd in Gauteng opgespoor en ‘n beëdigde verklaring is vroeër vandeesweek bekom.”
Na aanleiding van die beëdigde verklaring en bewyse is ‘n sersant en drie konstabels wat by die lughawe gestasioneer was, Donderdagoggend aangekeer, het Vishnu vertel.
Die beamptes sal Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA