Polisiebeamptes vas vir afpersing
2011-09-06 22:50
Johannesburg – Twee polisiebeamptes is Dinsdag in hegtenis geneem toe hulle geld by ‘n motoris in Dobsonville, Soweto, geëis het, het die polisie in Gauteng gesê.
Die beamptes, onderskeidelik 36 en 40 jaar oud, het Maandagmiddag ‘n motor afgetrek en probeer om die bestuurder af te pers deur R10 000 te eis nadat hulle aan hom gesê het die motor is onpadwaardig, het lt. kol. Katlego Mogale gesê.
Hy het R3 000 aan hulle gegee en reëlings getref om die res van die geld Dinsdag aan hulle te besorg. Hy het toe na ‘n polisiekantoor gery en hulle gerapporteer.
Een van die beamptes is in hegtenis geneem toe die polisie hom gevind het waar hy op die afgespreekte plek gewag het vir die bestuurder om die res van die geld te oorhandig.
Die ander beampte is in Kagiso naby Randburg in hegtenis geneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA