Polisiebeamptes skuldig aan dwelmhandel
2011-10-17 22:56
Johannesburg – Drie voormalige polisiebeamptes is Maandag skuldig bevind aan handel in dwelms, waarvan sommige by die OR Tambo Internasionale Lughawe gekonfiskeer is, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.
Dumisani Jwara, Victor Mpho Jwili en Rasheki Landro Mokgasani is skuldig bevind toe hulle in die Hooggeregshof in Johannesburg verskyn het, het Mthunzi Mhaga, woordvoerder, gesê.
Hul vonnisoplegging sal op 7 November plaasvind, het hy gesê.
Die mans is in 2009 in hegtenis geneem in verband met verskeie aanklagte wat verband hou met afpersery, dwelmhandel, bedrog, diefstal, poging tot diefstal en dwarsboming van die gereg.
Tydens die verhoor is onthul dat die mans – wat in dié stadium lede van die polisie in die Wes-Rand se eenheid teen georganiseerde misdaad was – op dwelms beslag gelê het en dit aan ander dwelmhandelaars verkoop het vir eie gewin, het Mhaga gesê.
Dit is ook onthul dat hulle ‘n dwelmhandel–onderneming in die Johannesburg-gebied bestuur het.
‘n Vierde beskuldigde, Caiphus Saphephi Shange, wat ook ‘n lid van die eenheid was, het in 2009 gesterf.
Die mans se borgtog is verleng tot hul vonnisoplegging.
Dit is die eerste maal dat die staat ‘n skuldigbevinding aan afpersery kon verseker teen senior wetstoepassers, het Mhaga gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA