Polisiebeamptes martel glo seun
2012-06-04 20:05
Johannesburg – Polisiebeamptes in Noordwes word ondersoek vir aanranding nadat hulle na bewering ‘n seun gemartel het omdat hulle geglo het hy het inligting oor ‘n neef wat verdwyn het, het die polisie Maandag gesê.
Die polisie het die saak van aanranding oopgemaak nadat die familie gehuiwer het om ‘n klag in te dien, aangesien hulle vergelding gevrees het, het brig. Thulane Ngubane gesê.
Die 12-jarige seun is na bewering met ‘n belt geslaan en gedwing om in koue water te swem om te soek na sy vierjarige neef, Otlotleng Morake, het Ngubane gesê.
Hy is na bewering op die ore geslaan. Dit het sy gehoor verswak. Hy gil nou saans en vind dit moeilik om te slaap of om met die polisie te praat. Hy het ook skool misgeloop.
Ngubane, wat sy teleurstelling met die bewerings uitgespreek het, het gesê die kwessie is by die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD) aangemeld. Die OPOD se bevindinge sal bepaal watter stappe geneem sal word.
Die polisie is ook besig met hul eie interne ondersoek, het hy gesê.
Moses Dlamini, OPOD-woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA