'Polisiebeamptes' in hegtenis
2011-10-30 18:16
Johannesburg – Drie mans is in Polokwane in hegtenis geneem nadat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het en vir gewapende roof, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi is die mans Vrydag by hul “deftige” kantore in die Palm Centre in hegtenis geneem en in besit van gesteelde eiendom en vervalste bankkaarte betrap.
Volgens hom het die polisie beslag gesê op drie rekenaars, drie drukkers, twee kaartdrukkers, ‘n speelgoedgeveer, 18 vervalste kaarte en een stempel van goedkeuring vir ‘n tender van die provinsiale departement van sport, kuns en kultuur.
Die 18 kaarte is verbonde aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die departemente van sport en gesondheid, die polisie, die Valke en die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
“Onlangs was ‘n groep sogenaamde polisiebeamptes in Polokwane betrokke by gewapende rooftogte en huisbrake,” het Mulaudzi gesê.
Hy het gesê dit is moontlik dat die mans betrokke is by dié misdade.
‘n Senior bestuurder van die provinsiale departement van paaie en vervoer is onlangs in sy huis aangeval en van ses selfone beroof deur mans in polisie-uniforms.
In ‘n ander voorval is ‘n sakevrou by haar huis van meer as R60 000 beroof deur twee sogenaamde ondersoekers van die Valke, het Mulaudzi gesê.
Die mans sal na verwagting Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA