Polisiebeampte vas vir moord op taxi-eienaar
2011-09-19 22:57
Johannesburg – ‘n Polisiekonstabel is Maandag in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n taxi-eienaar in Malamulele, het die polisie in Limpopo gesê.
Volgens lt. kol. Mohale Ramatseba is die 30-jarige konstabel, wat by die Malamulele-polisiekantoor gestasioneer was, in Mavambe in hegtenis geneem.
Die Taxi-eienaar Given Hlungwana, van Shibangwa in Malamulele, is Sondag doodgeskiet.
“Die taxi-eienaar het met sy bakkie in Malamulele gery toe hy ‘n persoon in die middel van die pad gesien het,” het Ramatseba gesê.
“Hy het uit die motor geklim en na die persoon in die pad gestap. Hy is verskeie kere geskiet oor sy hele liggaam. Die slagoffer het onmiddellik gesterf.”
Die konstabel se dienspistool is teruggevind en sal deel van die ondersoek uitmaak.
“Die motief vir die moord is nog nie duidelik nie,” het hy gesê.
Die konstabel sal Woensdag in die Malamulele-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA