Polisiebeampte tydens kaping geskiet
2011-12-07 18:37
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte se voertuig is in KwaMhlanga in Mpumalanga deur drie mans gekaap en hy is ook geskiet, het die polisie Woensdag gesê.
Die beampte het Dinsdagaand omstreeks 19:00 drie mans opgelaai wat in Vlaklaagte geryloop het, het kapt. Madimetja Ledwaba gesê.
Hy was nie aan diens nie en was ten tyde van die voorval met sy VW Golf na Verena op pad.
Verbygangers het ‘n paar uur later, sowat agt kilometer van daar, op die verlate voertuig afgekom.
Volgens Ledwabo is die beampte in die motor se kattebak toegesluit. Hy het 'n skietwond in sy maag opgedoen.
“Hy is ernstig beseer en kon nie ten volle verduidelik wat gebeur het nie,” het hy gesê.
“Dit blyk of die kapers die voertuig net daar gelos het nadat dit meganiese probleme gehad het.”
Die beampte, wat in sy laat twintigs is, is na die KwaMhlanga-hospitaal opgeneem.
Die kapers is steeds op vrye voet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA