Polisiebeampte se lyk in KZN gevind
2012-01-30 15:00
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte se lyk is in ‘n sloot in Pietermaritzburg gevind, het die polisie in KwaZulu-Natal Maandag gesê.
Konst . Skhumbuzo Mkhwanazi (32) se lyk is Sondag ná ‘n reuse-soektog omstreeks 06:00 gevind, het kol. Jay Naicker gesê.
Mkhwanazi het vermis geraak nadat hy Saterdagoggend met ‘n ander motoris in ‘n padwoede-voorval betrokke was.
Meer besonderhede oor die padwoede-voorval was nie onmiddellik beskikbaar nie.
“Mkhwanazi het nie sedert die voorval teruggekeer huis toe nie en ‘n soektog is in die omgewing waar hy laas deur sy vriende gesien is, van stapel gestuur,” het Naicker gesê.
“In die stadium word geen gemene spel vermoed nie en ‘n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van sy dood vas te stel.”
Die Daily Sun het berig dat Mkhwanazi die broer van die waarnemende nasionale polisiekommissaris lt. genl. Nhlanhla Mkhwanazi is.
Nie Naicker of Mkhwanazi se kantoor kon dit onmiddellik bevestig nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA