Polisiebeampte se huis aan brand gesteek
2011-06-20 20:53
Johannesburg – ‘n Stasiebevelvoerder van die polisie se huis in Meloding is Maandag in die vroeë oggendure aan die brand gesteek, het die polisie in die Vrystaat gesê.
Lt. Kol. Zenobia Hoko, haar suster en haar twee kinders het geslaap toe sy aan die rook begin stik het, het ao. Malebo Khosana gesê.
Sy het wakker geword en gesien dat haar voordeur aan die brand is. Sy het die vlamme begin blus, daarin geslaag om die voordeur oop te kry en almal by die huis uit te help. Hoko het toe haar broer, wat in ‘n kamer buite die huis geslaap het, geroep.
Hulle het saam daarin geslaag om die brand, wat na die gordyne versprei het, te blus. Hoko en haar familie is nie beseer nie.
Volgens die polisie is parrafien gebruik om die brand te stig. Die motief is nog nie bekend nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA