Polisiebeampte in hof vir veediefstal
2011-08-11 21:54
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte van Mpumalanga het Donderdag in die hof in Badplaas verskyn op aanklagte daarvan dat hy vee van sowat R45 000 gesteel het, het die polisie gesê.
Die verhoor van konst. Elmon Motha (30) is tot 18 Augustus uitgestel, wanneer hy na verwagting ‘n formele borgtogaansoek sal aanbring, het lt. kol. Leonard Hlathi gesê.
Motha is in Junie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy na bewering die vee van ‘n plaas in Badplaas gesteel het.
Hlathi het gesê die eienaars het aan die polisie gesê hulle het die vee in Tjakastad naby Ermelo opgemerk.
“Met hul aankoms het die polisie die man ontmoet wat dokumente te voorskyn gebring het en gesê het hy is die eienaar. Hy het later gesê hy het die vee by ‘n polisiebeampte gekoop toe hy besef het die polisie het bewyse dat die vee gesteel is,” het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA