Polisiebeampte in hof oor kabels
2012-01-22 18:00
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte van Limpopo het in die Lephalale-landdroshof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is vir die aankoop van gesteelde koperkabels, het die polisie Sondag gesê.
Brig. Hangwani Mulaudzi, polisiewoordvoerder, het gesê die 56-jarige adjudant-offisier Johannes Gouws is Vrydag in hegtenis geneem toe hy die kabels by ‘n geheime agent van die Valke gekoop het.
“’n Operasie is uitgevoer waarin die agent voorgegee het dat hy ‘n groot hoeveelheid koperkabels het waarvan hy ontslae moes raak. ‘n Vergadering is gereël en die niksvermoedende beampte het die gesteelde buit by die agent gekoop,” het Mulaudzi gesê.
Gouws is by ‘n plaaslike polisiekantoor aangekla en hof toe geneem. Hy is later op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Mulaudzi het gesê die polisie ondersoek Gouws se skorsing.
Hy sal weer op 28 Februarie in die Lephalale-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA