Polisiebeampte in hof gesteek
2012-01-30 22:56
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte is Maandag met ‘n tuisgemaakte mes in die nek gesteek toe ‘n moordverdagte uit die Vereeniging-streekhof probeer ontsnap het, het die polisie gesê.
“Die slagoffer het om hulp geroep en herhaaldelik geskree: ‘Ontsnapping, keer daardie man,’” het kapt. Shado Mashobane gesê. Ander polisiebeamptes het hom te hulp gesnel in die hof se aanhoudingselle.
Mashobane het gesê die polisiebeampte is in die hospitaal opgeneem en is in ‘n stabiele toestand.
Die 27-jarige verdagte is in hegtenis geneem voor hy kon ontsnap.
Hy het alreeds 11 aanklagte teen hom en sou Maandag in die hof verskyn het in verband met ‘n moord in Orange Farm.
Hy sal nou ook aangekla word van poging tot moord en poging tot ontsnapping uit aanhouding, het Mashobane gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA