Polisiebeampte geskiet tydens OTM-rooftog
2012-06-07 16:44
Johannesburg – ‘n Polisieman is vroeg Donderdagoggend geskiet nadat vier mans drie OTM’s in Jouberton buite Klerksdorp opgeblaas het, het die polisie in Noordwes gesê.
“Drie OTM’s is vanoggend (Donderdagoggend) deur vier onbekende verdagtes by ‘n winkelsentrum in Uitbreiding 2, Jouberton, opgeblaas,” het brig. Thulani Ngubane gesê.
‘n Polisiebeampte wat naby die winkelsentrum woon, het die ontploffing gehoor en die polisie gekontak. ‘n Sekuriteitswag het ook ‘n paniekknoppie gedruk voordat hy deur die vier mans oorval is.
Die mans, wat met AK47-gewere gewapen was, het op die polisie geskiet toe hulle by die winkelsentrum opdaag. Konst. Tshepo Bandjies (29) is in die kop geskiet en is na ‘n hospitaal geneem waar hy in ‘n ernstige, maar stabiele toestand is.
Die mans het in ‘n motor en ‘n gekaapte bakkie van die toneel gevlug. Die verlate bakkie is later naby die toneel gevind.
Die polisie is op soek na die mans. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA