Polisiebeampte doodgeskiet
2011-10-17 17:55
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte wat van diens af was, is Sondag in Ladysmith doodgeskiet, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.
“Twee mans het sers. Siboniso Siyethemba Nkabinde in die bors geskiet. Hy is noodlottig gewond,” het kapt. Thulani Zwane Maandag gesê.
Die 32-jarige polisiebeampte het saam met sy vriend van eMnambithi na Driefontein in Ladysmith gereis.
“Op pad terug na eMnambithi het die twee vriende se petrol opgeraak. Twee mans het vir hulle hulp aangebied en met die polisiebeampte se vriend na ‘n vulstasie gery,” het Zwane gesê.
Die mans het egter ná die tyd geld geëis. Nkabinde is in die bors geskiet toe hy gesê het daar is geen geld om hulle mee te betaal nie.
Die mans het die Nkabinde se selfoon gesteel. Sy vriend het die veld in gevlug en is ongedeerd.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA