Polisiebeampte deur rower doodgeskiet
2011-08-29 22:00
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte is Maandag doodgeskiet toe hy probeer het om ‘n rower in Mankweng in hegtenis te neem, het die polisie in Limpopo gesê.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder, het konst. Obedia Chuene Mokgehle (30) gesterf nadat hy in die heup geskiet is toe hy die rower Maandagoggend wou aankeer.
Die rower was een van ‘n groep mans wat vroeër die oggend by ‘n vrou se huis ingebreek het. Sy het na die plaaslike polisiekantoor gegaan en een van die rowers in die gebied raakgesien. Mokgehle het haar vergesel om hom te vind. Tydens die struweling het die rower die beampte se pistool gegryp en hom geskiet. Hy het met die vuurwapen gevlug.
Die polisie weet wie die rower is en is op sy spoor.
Volgens Mulaudzi is agt polisiebeamptes reeds sedert April in Limpopo vermoor.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA