Polisiebeampte beboet vir diefstal
2011-10-04 19:12
Kaapstad – ‘n Polisiebeampte is ‘n boete van R10 000 opgelê in die spesiale hof vir kommersiële misdade in Bellville nadat hy ‘n vermeende dronkbestuurder besteel het.
Anglio Pietersen (39) is ‘n vonnis van R10 000 of ‘n jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is tot ‘n verdere twee jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis.
Landdros Amrith Chabilall het gesê Pietersen kan homself gelukkig ag dat hy nie aan korrupsie skuldig bevind is nie.
Pietersen, wat in die Paarl gebaseer is, het klagtes van korrupsie, diefstal en bedrog in die gesig gestaar, maar is slegs aan diefstal skuldig bevind.
Hy het ‘n man in Julie verlede jaar vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Hy het besef die man het ‘n opgeskorte vonnis vir dieselfde oortreding gehad en dat die tydperk nog nie verstryk het nie. Pietersen het toe aan die man gesê hy kan die dossier laat verdwyn in ruil vir geld.
Hy is R450 betaal en het toe vir die man se kredietkaart en pinnommer gevra, maar het nooit die dossier verwoes nie.
Toe die vermeende dronkbestuurder die volgende oggend uit aanhouding vrygelaat is, het hy ontdek dat R1 000 uit sy rekening onttrek is.
Chabilall het gesê die feit dat Pietersen ‘n man besteel het wat in sy aanhouding was en oor wie hy outoriteit gehad het, maak die diefstal veel erger.
“Jou gedrag gee die hele polisiediens ‘n slegte naam en die swak reputasie word heeltemal verdien indien die polisie mense soos jy in diens neem. Die polisiediens is nie ‘n plek vir oneerlike mense nie.”
Chabilall het gesê die aanklag teen die dronkbestuurder is steeds hangend. Dít het Pietersen van gevangenisstraf gered.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA