Polisiebeampte afgedank ná Kempton-skietery
2011-09-06 21:58
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n vrou buite ‘n polisiekantoor in Kempton Park doodgeskiet het, is afgedank ná ‘n dissiplinêre verhoor, het die polisie Dinsdag gesê.
Sers. Manape Phineas Kgoale (38) is op 31 Augustus deur die dissiplinêre komitee skuldig bevind, het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
Hy het gesê die kwessie is tot Maandag uitgestel vir Kgoale om sy dade te verduidelik, maar dat hy nie tydens die verhoor gepraat het nie.
“Miskien sal sy redes in die strafregtelike saak uitkom,” het Ndou gesê.
Hy het gesê die komitee se bevindinge sal nie die strafregtelike saak beïnvloed nie.
Kgoale het na bewering die 45-jarige Jeanette Odendaal doodgeskiet nadat sy op 26 April buite die Kempton Park-polisiekantoor teen ‘n stilstaande polisiemotor gebots het.
In ‘n beëdigde verklaring het Kgoale gesê hy het gedink Odendaal was ‘n kaper of ‘n motordief.
Hy sal op 12 Oktober in die Alberton-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA