Polisie wil renostereienaars bewapen
2011-09-22 14:15
Kaapstad – Die polisie help privaateienaars van renosters om lisensies vir semi-outomatiese gewere te bekom, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, gesê.
Dít is een van die stappe van die polisie om renosterstropery te bekamp, het Mthethwa in 'n geskrewe antwoord op 'n parlementêre vraag gesê.
In onlangse maande het stropers renosters op privaatplase geteiken nadat meer effektiewe sekuriteitsmaatreëls by nasionale parke ingestel is.
Die stropers is dikwels gewapen met outomatiese gewere soos AK47's.
"Die polisie het privaateienaars van renosterbevolkings om lisensies vir semi-outomatiese gewere te bekom. Daar is vereistes waaraan applikante moet voldoen en prosesse en stappe wat gedoen moet voor 'n persoon ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer bevoeg is," het Mthethwa gesê.
'n Outomatiese geweer herlaai self en skiet vir solank as wat die sneller getrek is; 'n semi-outomatiese wapen herlaai self, maar die sneller moet vir elke skoot getrek word.
Mthethwa het nie gesê hoeveel lisensies vir semi-outomatiese gewere vir privaateienaars en hul werknemers uitgereik is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA